Jasser Arafat

Jasser Arafat
ياسر عرفات
Jasser Arafat
Jasser Arafat by die Wêreldekonomiese Forum in 2001

1ste President van die Palestynse Nasionale Owerheid
Ampstermyn
5 Julie 1994 – 11 November 2004
Eerste minister Mahmoud Abbas
Ahmed Qurei
Voorafgegaan deur Amp geskep
Opgevolg deur Rawhi Fattouh (interim)

3de Voorsitter van die Palestynse Bevrydingsorganisasie
Ampstermyn
4 Februarie 1969 – 29 Oktober 2004
Voorafgegaan deur Yahya Hammuda
Opgevolg deur Mahmoud Abbas

Persoonlike besonderhede
Gebore 24 Augustus 1929
Kaïro, Egipte
Sterf 11 November 2004
Clamart, Hauts-de-Seine, Frankryk
Politieke party Fatah
Eggenoot/-note Suha Arafat (1990–2004)
Kind(ers) 1
Religie Soennitiese Islam
Handtekening
Toekennings Nobelprys vir Vrede (1994)

Jasser Arafat (Arabies: ياسر عرفات;‎ 24 Augustus 192911 November 2004) was die president van Palestina, wat eintlik beteken dat hy die president was van die gesagsliggaam wat die Palestynse Grondgebiede in die Gasastrook en die Wesoewer beheer het. Hy was ook die gesig van Palestynse nasionalisme wat die wêreld vier dekades lank geken het. Hy het daarin geslaag om Palestynse aspirasies lewend te hou en om die vele faksies in die geledere van die Palestyne te verenig.[1]

Onder sy prestasies tel die stigting van die el-Fata-groep, bestaande uit Palestynse ballinge, sy verkiesing tot leier van die Palestynse Bevrydingsorganisasie (PBO) en tot president van die Palestynse Nasionale Raad. In 1996 is hy verkies tot president van Palestina.

In 1994 het hy die Nobelprys vir Vrede gedeel met die Israeliese leiers Yitzhak Rabin en Shimon Peres vir hul bydraes tot die totstandkoming van die Oslo-vredesooreenkomste.[2] Sy besluit om nie die vredesvoorstel te aanvaar wat die destydse Amerikaanse president Bill Clinton in 2000 by Camp David gefasiliteer het nie, het egter daartoe gelei dat die vredesproses ontspoor het.

Arafat se internasionale profiel het die afgelope 40 jaar dramaties verander. Tydens die Sestigerjare is hy beskou as die leier van ’n terreurorganisasie wat vele aanvalle op Israel uitgevoer het. In die Sewentigerjare het die wêreld hom beskou as 'n politikus sonder 'n land. In die Tagtigerjare het hy toenemend steun van die Weste gekry, en in die Negentigerjare het die internasionale samelewing hom begin sien as 'n pragmatiese, gematigde leier.[3]

Arafat se steun van binne sy eie geledere het sedert die begin van 2001 egter vinnig begin taan. Dit was toe te skryf aan die opkoms van ander, meer radikale groepe wat meer aktief en meer verteenwoordigend van die openbare mening was, sowel as die feit dat Israel sy bewegings ná 'n vlaag selfmoordbomaanvalle so ingeperk het dat hy nie in staat was tot iets noemenswaardigs nie. Hy is gevolglik deur party van sy eie mense uitgemaak as 'n swakkeling.

Dit doen egter nie afbreuk aan die feit dat hy tydens sy leierskap dit reggekry het om die uiteenlopende faksies binne Palestynse geledere te verenig nie en om, tot sekere mate, radikale elemente te beheer en geweld te beperk. Sy dood in November 2004 het 'n reuse-reaksie van Palestyne sowel as wêreldleiers uitgelok, wat hulde gebring het aan die rol wat hy in die kookpot van die Midde-Oosterse politiek gespeel het.

  1. HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
  2. "The Nobel Peace Prize 1994" (in Engels). Nobelprize.org. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Junie 2018. Besoek op 6 Oktober 2017.
  3. Hart, Alan (1989). Arafat, a political biography (Illustrated uitg.). Indiana University Press. p. 27. ISBN 978-0-253-32711-6.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search